Back to Posts

Opleiding in swak ekonomiese tye

Is dit realisties om van jou werkgewer te verwag om aan te hou met opleiding as ekonomiese druk verhoog?

ʼn Swak ekonomiese klimaat gaan dikwels met salarisvriesings en -afnames, hoë werkslading, personeel­vermindering en ʼn besnoeiing van nie-noodsaaklike dienste en luukshede gepaard. Hierdie oorlewing­strategieë lei tot onder meer arbeidsonluste, hoë spanningsvlakke, lae moraal, vaardigheidstekorte en onproduktiwiteit.

ʼn Organisasie se opleidingsbegroting is dikwels die eerste begroting wat tydens swak ekonomiese toestande hersien en besnoei word. Alhoewel onmiddellike kostes sodoende bespaar word, word dit nie as ʼn volhoubare oplossing beskou nie. Trouens, opleiding en ontwikkeling kan die werksmag eerder meer bestand maak teen die destruktiewe effek wat ʼn swak ekonomiese klimaat op ʼn organisasie mag hê. Dit bevorder nie net die fisiese en geestelike welstand van die werknemer nie, maar verseker ook die organisasie se oorlewing op die langtermyn deurdat dit versnelde herstel bewerkstellig. Deur voortdurend in die kennis en vaardighede van die werksmag te belê, word vangnette gekweek wat onder meer toewyding, produktiwiteit, kreatiwiteit en vermoë om waarde toe te voeg, insluit. So kan die organisasie die behoud van sy mededingingsvoordeel tydens moeilike ekonomiese tye verseker.

Organisasies word aangemoedig, of eerder genoodsaak, om kreatiewe, koste effektiewe opleidings­inisiatiewe te ondersoek. Die volgende inisiatiewe kan organisasies in staat stel om deurlopend opleidingsgeleenthede te bewerkstellig:

  • Interne- of Indiensopleiding: Eksterne opleidingsprogramme behels dikwels dat werknemers vir lang tye uit die werk wegbly. Behalwe vir die verlore werksure, stoot verblyf- en vervoerkostes opleidingsuitgawes op. Die voordeel van interne- of indiensopleiding is dat die werknemer die aangeleerde kennis en vaardighede kan vaslê deur dit prakties, binne sy / haar alledaagse werksomgewing, toe te pas.
  • Desentralisasie van opleidingsfunksie: Groter organisasies beskik soms oor ʼn opleiding- en ontwikkelingsafdeling. Deur sommige van hierdie verantwoordelikhede na die produksie eenhede te verplaas en slegs van ʼn opleidingskoördineerder gebruik te maak, kan organisasies help om opleidingskostes te besnoei. Spanonderrig en onderlinge opleiding skep ʼn organisasiekultuur wat gesamentlike leer beklemtoon.
  • E-leer: Die gevorderde tegnologie stel werkgewers in staat om pasgemaakte, gerekenariseerde programme elektronies aan te bied. Dit bied werknemers die geleentheid om selfs na-ure, in die gerief van hul eie tuiste, nuwe kennis en vaardighede aan te leer.
  • Staatsubsidies: Met die implementering van jeugloon subsidies, sowel as die Sektorale Onderwys en Opleiding Owerhede se PIVOTAL programme, kan organisasies nie net bydra tot die ontwikkeling van jong Suid-Afrikaners in die vorm van internskappe en vakleerlingskappe nie, maar ook sodoende arbeidskostes bespaar.
  • Mentorskap- en afrigtingsprogramme: Hierdie vorm van opleiding blyk baie voordelig vir bestuursopleiding en leierskapsontwikkeling te wees. Deurdat individue ondersteuning en leiding van kundiges binne of selfs buite die organisasie kry, verseker die organisasie dat diegene wat die grootste bydrae tot die oorlewing van die organisasie maak, oor die nuutste kennis en vaardighede beskik en dat kosbare kennis nie verlore gaan nie.

Share this post

Back to Posts