Jaareindfunksies – fees of euwel?
Vanaf 15 Desember is dit tradisioneel vakansietyd in Suid-Afrika. Baie ondernemings sluit hul fabrieke en kantore dan tot vroeg in die nuwe jaar.
Dit is gebruiklik dat ’n afsluitingsgeleentheid gehou word om dankie te sê vir die jaar se harde werk en almal ’n geseënde feestyd en lekker vakansie toe te wens. Party sien uit daarna, party sien op daarteen, en party is doodgewoon blasé daaroor.
Die aard en omvang van jaareindgeleenthede wissel van organisasie tot organisasie. Dit is algemeen om personeeletes, braaivleis en pieknieks (uitstappies) in werkstyd vir personeellede te reël. Daar is ook baie organisasies wat na-ure funksies vir senior personeel reël waarby gades betrek word. Soms is van hierdie geleenthede baie swierig en herinner amper aan ’n matriekafskeid. Naweke weg, duur uitstappies en vermaak bring uiteraard baie hoë kostes.
Die vraag ontstaan egter – moet dit nog plaasvind in hierdie tyd waarin selfs die mees basiese lewensmiddele haas onbekostigbaar geraak het? Is dit ’n luukse of ’n gegewe? Is dit opbouend of net nóg ’n geleentheid vir skinder en kritiek? En wie moet nou eintlik besluit wat die geleentheid gaan wees?
By groter organisasies is jaareindgeleenthede meer die reël as die uitsondering, aangesien sulke organisasies dikwels finansieel beter daarvoor voorsiening kan maak. By klein organisasies raak dit al moeiliker – veral met die huidige ekonomiese toestande – om sulke kostes ook nog by te bring.
Tog is hierdie tipe funksies soms juis by klein organisasies van meer waarde. Dit skep die geleentheid om ’n slag op ’n meer persoonlike vlak (sonder ’n kermende skakelbord in die agtergrond) met al jou kollegas te gesels en hulle beter te leer ken en verstaan. By groot, korporatiewe jaareindgeleenthede, wat dikwels ontaard in glansaande waar almal met mekaar wedywer om die besgeklede persoon van die aand te wees, kom jy kwalik by ’n tiende van jou kollegas uit vir ’n geselsie.
Boonop hoef jaareindfunksies nie noodwendig duisende rande te kos nie – dink maar aan ’n lekker braai, piekniek of informele samekoms.
Om te besluit of ’n jaareindfunksie gehou moet word al dan nie, is dit belangrik om ’n organisasie se kultuur in ag te neem: as 9 van die 10 personeellede anti-sosiale persone is, waarom die moeite doen om 90% van die personeel te straf met ’n aandlange, gedwonge byeenkoms van oppervlakkige geselsies?
Indien daar besluit word om wel ’n jaareindfunksie te hou, is dit ’n goeie gedagte om die personeel se voorstelle te vra. Vanselfsprekend gaan daar nooit aan almal se verwagtinge voldoen kan word nie, maar ten minste sal ’n idee gevorm kan word van die tipe funksie wat die meerderheid verkies. Anders kan dit soms gebeur dat die werkgewer self besluit hoe en waar jaareindfunksies plaasvind, en jaar na jaar is dit vir sy personeel ’n straf eerder as ’n voorreg. Dit is ook raadsaam om ’n geleentheid te probeer kies wat die gemiddelde werknemer se lewenstandaard en kultuur in ag neem.
Jaareindfunksies is egter nie sonder probleme nie:
- Hoë kostes vir die werkgewer.
- Daar is dikwels insidente van wangedrag (misbruik van alkohol en onaanvaarbare gedrag van lasposte / teistering).
- Padveiligheid en alkohol verwante oortredings / ongelukkige lei dikwels tot tragedies.
- Werknemers het verskillende waardes (moreel, eties en godsdienstig) en kleiner groepe / individue mag dus aanstoot neem uit wat aangebied word.
- Dit is praktyk dat daar dikwels ’n onderskeid tussen bestuur (senior personeel) en produksiewerkers gemaak word. Hierdie praktyke kan as diskriminasie ervaar word.
- Daar is ook altyd persone wat krities is en dit nie noodwendig as motivering ervaar nie.
- Mense se belangstellings verskil en dit is gevolglik moeilik om temas, aktiwiteite en spyskaart saam te stel wat almal se behoeftes aanspreek.
- Datums (naweke en na-ure) pas ook nie altyd almal nie.
Te midde van baie moeilike ekonomiese tye, is ’n wesenlike vraag of werkgewers nie eerder alternatiewe behoort te oorweeg nie. Die volgende alternatiewe kan dalk ’n meer positiewe en goedkoper opsie wees:
- Kleiner gesellighede by die werk waaraan almal kan deelneem.
- Geskenkbewyse aan werknemers (supermarkgroepe en winkelsentrums).
- Spesiale bonusse – werknemers kan self besluit hoe om dit aan te wend.
- Kleiner begrotings waarbinne werkspanne self kan besluit wat hulle wil doen.