Back to Posts

Wenke teen tydmors by die werk

In ʼn navorsingspeiling gedoen deur salary.com is bevind dat 73% van mense erken dat hulle gemiddeld een uur per dag, oftewel nagenoeg 15% van hul werkstyd, tyd mors by die werk!

Dit sluit aktiwiteite in soos rondspeel op die internet (48% van mense doen dit daagliks), gesels met kollegas (33%), omsien na persoonlike agendas en oproepe (49%) en die neem van langer etens– en teetye (15%).

Van die werknemers wat toegang het tot Facebook by die werk, gaan 77% dit daagliks in werksure na. Die wat NIE toegang tot Facebook by die werk het nie, gaan dit na in die badkamer op hulle selfone (54% van vroue en 46% van mans doen dit!).

As iemand nie by hulle lessenaar is nie, is die kanse groot dat hulle besig is om koffie te drink: die gemiddelde werknemer drink drie koppies koffie per dag!

Boonop kom een uit elke drie mense werk toe met ʼn babelaas en 15% van mense sê hulle was al dronk by die werk!

Nog meer onrusbarend is die bevinding dat 27% van werknemers by die werk na eposse en/of webwerwe kyk wat volwasse inhoud bevat, en dat die meeste pornografie in werkstyd (tussen 9vm en 5nm) afgelaai word!

Bogenoemde tydmorsers sluit etenstye en werksverwante tydmors-aksies uit, soos om jou inboks skoon te maak, eposse te lees, oproepe te ontvang, te wag op kollegas, dom foute reg te maak, kantoorpolitiek te hanteer, irrelevante vergaderings by te woon, onnodige administratiewe werk te doen, die afwesigheid van beplanning en prioriteite, die uitstel van belangrike take wat hanteer moet word, onderbrekings en krisisbestuur. Hierdie werksverwante tydmorsers neem meer as 20% van mens se dag in beslag.

Indien persoonlike en werksverwante tydsvermorsing saamgetel word, is ʼn volle 35% van jou werksdag reeds daarmee heen.

Nie alle werkers is ewe produktief en effektief nie. Persoonlike motivering, kundigheid en vaardigheid is bepalend vir die kwaliteit en kwantiteit van individue se werksverrigting. Werkstelsels en prosedures is dikwels argaïes / lomp en onproduktief. Dit dwing werkers om baie tyd te vermors.

ʼn Paar dinge om te onthou rakende sommige van die werksverwante tydmorsers:

1. E-pos

Die tendens is dat al meer mens verslaaf raak aan e-pos as kommunikasiemiddel. Dit is wel gerieflik en los ʼn dokumentspoor van kommunikasie oor ʼn onderwerp, maar baie tyd word gemors deur heen-en-weer e-pos gesprekke, terwyl verskeie sake baie beter in een-tot-een gesprekke uitgesorteer kon word. Die oplossing is, as iets bespreek moet word, gebruik eerder ʼn een-tot-een gesprek of telefoonoproep as kommunikasiemetode. As jy steeds ʼn geskrewe rekord daarvan wil hê, skryf ʼn vinnige e-pos wat die gesprek en uitkomste daarvan opsom, en stuur dit vir belanghebbendes. Dit mag miskien klink na ʼn ekstra stap in die kommunikasieproses, maar kan die verskil beteken tussen een uur se werk, en twee dae se heen-en-weer e-posse.

2. Vergaderings

Hoe dikwels is die uitkoms van ʼn vergadering nie net ʼn lys van sake wat by ʼn volgende vergadering bespreek moet word nie? Die volgende reëls geld in verband met vergaderings:

  • Elke vergadering moet ʼn duidelike doelwit hê.
  • Die doelwit van die vergadering moet bereik word deur ʼn voorafopgestelde agenda te volg.
  • Die agenda moet voor die vergadering aan almal wat gaan bywoon, gestuur word.
  • Die voorsitter van die vergadering moet sekermaak dat almal gefokus bly op die agenda.
  • Maak seker dat ʼn vergadering wel nodig is, en dat dit nie bloot die deel van informasie is wat per epos aan almal gestuur kan word nie.
3. Onderbrekings

Jy is in die middel van iets en kry skielik ʼn “dringende” epos. Jy begin dadelik om die epos te beantwoord, slegs om deur ʼn foonoproep onderbreek te word. Jy plaas die foon skaars terug op die mikkie toe daar weer ʼn epos in jou inboks beland. Voor jy dit weet is dit 4nm en jy het steeds nie klaargemaak met dit waarmee jy begin het nie! Klink dit bekend? Hoe om onderbrekings te hanteer:

  • Skakel jou telefoon se antwoordmasjien aan.
  • Skakel alle aandagtrekmeganismes af wat jou in kennis stel wanneer ʼn nuwe epos in jou inboks beland.
  • Beplan tyd, drie keer per dag, om jou inboks skoon te maak en jou telefoonboodskappe te antwoord.
  • Skryf alles neer wat jy wil bereik en ken tyd toe aan elke item op grond van belangrikheid en dringendheid. Prioritiseer en beplan jou dag daarvolgens.
  • Moenie na ʼn volgende taak aanbeweeg as jy nie die vorige een klaargekry het nie – jy sal nie net beter werk lewer as jy op een ding op ʼn slag fokus nie, maar jy sal ook gouer klaarkry.

Produktiwiteit is beslis ʼn aangeleentheid wat bestuurders na aan die hart lê. Met die ekonomiese resessie het baie ondernemings afleggings gedoen en is daar selfs ʼn groter werkslading op diegene wat agterbly. Niemand van ons kan bekostig om ʼn derde van ons werksdag te vermors nie!

Share this post

Back to Posts