Back to Posts

Delegasie van gesag binne organisasies

Anders as in ʼn demokrasie, waar die massagroep hul mag / gesag aan ʼn leiers toevertrou, beskik die eienaar (aandeelhouers en Direksie) binne moderne organisasies oor gesag wat hulle afwaarts delegeer.

Werkgewers stel mense aan om bepaalde take te verrig omdat hulle nie alles self kan doen nie en moet hul personeel dus vertrou om sekere sake af te handel.  Goeie delegasie veronderstel dat daar voldoende terugvoer en kontroles bestaan om te voorkom dat dit lei tot abdikasie.  Bestuurders bly immers aanspreeklik vir die prestasie of mislukking van die organisasie.

Vanuit die perspektief van ʼn werknemer is dit so dat elkeen hunker na ʼn geleentheid om hul potensiaal te vervul en suksesvol te wees.  Ons het almal tog al so dikwels gesê dat “ék hulle sal wys as ek net ʼn kans kan kry”.  Bestuurders wat hul personeellede “bemagtig” deur aan hulle die nodige gesag te gee om (binne ooreengekome grense) self te besluit, skep die ruimte vir gemotiveerde gedrag en persoonlike groei.

Bemagtiging (delegasie) word op twee vlakke gedoen.  Allereers word die gesag toegeken om besluite te neem.  Tweedens word persone bemagtig met vertroue.  Dit veronderstel verder dat as hulle binne die grense van die gesag aan hulle gedelegeer, ʼn fout sal maak, hulle steeds die nodige ondersteuning van bestuurders sal ontvang.

Dit is belangrik om te onthou dat die mandaat wat aan werknemers verleen word, duidelik omskryf moet word.  Posbeskrywings, prestasie-ooreenkomste, beleidstukke en prosedure handleidings is nuttige hulpmiddels wat algemeen vir hierdie doel gebruik word.

Die mate van gesag wat aan ʼn werker toevertrou word, het ʼn groot invloed op die senioriteit, posgradering (en gevolglike vergoedingskale) en status van poste.

Share this post

Back to Posts