Back to Posts

Streshantering in die werksplek

Maak die werksplek jou siek?

 Werknemers staar meer beroeps- en werksverandering in die gesig as ooit tevore.

Meer as ooit word daar van werknemers vereis om meer produktief te wees, sensitief te wees vir verskeidenheid / diversiteit, om saam te werk in spanne, innoverend te wees, meer verantwoordelikheid te neem, langer ure te werk en om gedurige verandering in die werksplek suksesvol te hanteer.

Organisasiekultuur, werkswyses, die impak van bestuurstyle en die maatskappy se algemene bestuurstrategie het ’n beduidende invloed op stresvlakke en gevolglik die gesondheid van mense in die werksomgewing.

Faktore soos tegnologiese ontwikkeling, globalisering, diversiteit, korter produklewe, die wisselvalligheid van verbruikerseise, aanhoudende en radikale omgewingsveranderinge en selfs net die rit na en vanaf die werksplek, stel al hoe meer eise en plaas al hoe meer druk op werknemers.

 

Die effek van hoë stresvlakke op gesondheid

Navorsing het bewys dat stresvolle emosies nie net sekere siektes kan veroorsaak nie, maar ook die liggaam se immuunstelsel onderdruk en die vermoë om te herstel, negatief beïnvloed.

Hormone wat afgeskei word onder stresvolle omstandighede veroorsaak die algemeen bekende “veg-of-vlug” reaksie. Dit gebeur omdat die bynier adrenalien en die streshormoon, kortisol, in die bloedstroom afskei. Hierdie hormone sit verskeie gebeure in die liggaam aan die gang, naamlik dat die polsslag versnel en bloeddruk verhoog in ’n poging om bloedvloei te vergroot na die hoofspiergroepe soos die skouers, arms en bene. Bloedsuikerproduksie verhoog sodat metabolisme kan versnel en vet en energie vinniger in die bloedstroom vrygelaat kan word.  Kortisol is op die korttermyn voordelig vir die liggaam omdat dit jou in staat stel om toepaslik in ’n noodgeval op te tree. Wanneer ons liggame egter vir uitermate lang tye aan kortisol blootgestel word, ontstaan psigosomatiese siektes.

Psigosomatiese siektetoestande wat met hoë stresvlakke geassosieer word, is onder andere spanningshoofpyne, slapeloosheid, rugprobleme, allergieë, maagsere, hartsiektes, post-traumatiese stresversteuring, vatbaarheid vir verkoues en griep, alkoholmisbruik, hipertensie, migraine, klierkoors, prikkelbare derm-sindroom, vel-irritasies, paniekaanvalle, swak konsentrasie en geheue, depressie, verlaagde of verhoogde eetlus, tiroïedprobleme en chroniese uitputting-sindroom.

Daar is ook bevind dat sommige mense van nature bloot net oor hoër stresvlakke beskik (tipe A-gedrag), en dat vrouens anders op stres reageer as mans. Alhoewel mans en vroue hoofsaaklik dieselfde hormone afskei in reaksie op stres, is bevind dat vroue hoër vlakke van oksitosien afskei. Navorsing dui daarop dat mense en diere met hoër oksitosienvlakke geneig is om kalmer en meer sosiaal te wees. Dit verduidelik waarom vroue minder geneig is om stresverwante siektes soos hipertensie en alkohol-misbruik te ontwikkel.

 

Stresvlakke in die werksplek

Die effek van stres op gesondheid in die werksplek is dikwels merkbaar in direk meetbare statistieke soos vlakke van afwesigheid en personeelomset. Dit is egter die minder opsigtelike effek van stres op menslike gedrag wat selfs meer nadelig vir die individu, sowel as die organisasie, kan wees. Dit sluit in irrasionele denke, foute in besluitneming, interpersoonlike konflik, ’n algemene mors van tyd, verminderde werksbevrediging en vermyding van take of verantwoordelikhede. Al die voorafgenoemde effekte van stres beïnvloed produktiwiteitsvlakke negatief.

Faktore in die werksplek wat oormatige stresvlakke kan veroorsaak is onder andere onduidelike roluitklaring, rolle-konflik, oorlading van werk, negatiewe bestuursgedrag, bestuurstyle of organisasieklimaat, oormatige verandering en werksonsekerheid, ’n lae vlak van saambinding (“cohesiveness”) tussen werknemers, asook lae vlakke van deelname in die werksplek.

 

Moontlike Oplossings

 Daar word dikwels deesdae van werknemers verwag om in kontekste te funksioneer met ’n aard van kompleksiteit wat ver bokant die normale mens se hanteringstrategieë lê. Organisasies behoort bewustelik meer te doen om stresvlakke te verminder en streshanteringsmeganismes van werknemers te verbeter.

Op organisasie-vlak kan verskeie intervensies geïmplementeer word ten einde stresvlakke van werknemers te verminder. Dit sluit in ’n verskeidenheid van gesondheidsinisiatiewe (“wellness interventions”) soos bewusmaking intervensies, effektiewe roluitklaring, die implementering van deelnemende bestuurstyle, intervensies om organisasiekultuur positief te beïnvloed, intervensies om deelname in die werksplek te verbeter, asook intervensies om interpersoonlike en selfbestuurvaardighede van werknemers (emosionele intelligensie) te verbeter. Laasgenoemde sluit o.a. in die aanleer van effektiewe tydsbestuurvaardighede.

 

Klimaatstudie

Joubert en Genote spesialiseer in organisasie-ontwikkeling en doen gereelde klimaatstudies om organisasie- en personeelgesondheid te evalueer. Kontak ons gerus vir verdere inligting.

 

Share this post

Back to Posts