Die telefoniese onderhoud
‘n Werwingskonsultant het vroeër ‘n telefoniese onderhoud met jou gereël. Jy hou jou horlosie angstig dop terwyl die minute verbytik. Jou selfoon lui, jou hart klop in jou keel. Die stem aan die ander kant bring jou tot ‘n stilstand.
Wag, raak rustig en gaan sit iewers waar dit stil is rondom jou. Hierdie is jou vyf minute om ‘n blywende indruk te skep. Elke telefoniese onderhoud is die eweknie van ʼn eerste rondte onderhoud by die werkgewer – hierdie vyf minute kan die begin van jou nuwe toekoms wees.
ʼn Telefoniese onderhoud het net een verskil – waar jy tydens ʼn gewone onderhoud direkte interaksie kan gebruik om die konsultant of werkgewer te beïndruk, is jy nou beperk tot telefoniese kommunikasie en professionaliteit. Jy kan dus nie staatmaak op bv. jou professionele kleredrag en voorkoms nie, daarom moet jy ekstra moeite doen met jou antwoorde, stemtoon, intonasie en taalgebruik.
Wenke vir ʼn suksesvolle telefoniese onderhoud:
- Goeie voorbereiding: Dink voor die tyd wat jy wil sê en hoe jy dit wil sê.
- Suiwer taalgebruik: Onthou dat die onderhoudvoerder slegs jou stem tot sy/haar beskikking het om ʼn indruk oor jou te vorm. Vermy dus
- Maak seker dat jy in ʼn stil omgewing is. Indien jy by die werk is, maak jou deur toe of gaan sit êrens anders waar daar die minimum agtergrondgeluide is.
- Fokus daarop om die werwingsagent/werkgewer se vrae so volledig as moontlik te beantwoord.
- Glimlag wanneer jy die vrae antwoord. ʼn Vriendelike gesindheid kan selfs deur ʼn telefoon oproep waargeneem word.
- Antwoord die vrae professioneel en met selfvertroue. Waar ietwat van ʼn gestamel dalk nog in ʼn persoonlike onderhoud ongesiens mag verbyglip, gaan dit definitief in ʼn telefoniese onderhoud opgemerk word.
- Probeer om elke vraag te beantwoord deur ‘n voorbeeld te gebruik waar jy die gedrag ten toon gestel het of taak verrig het.
- Laastens, hou jou CV byderhand. Jou CV is ʼn opsomming van jou lewe en sal jou help om inligting vinnig, bondig en korrek weer te gee. Sodoende kan jy die gesprek so vlot as moontlik laat afloop.