Back to Posts

Waarom streef na ‘n diverse werksmag?

Diversiteit verwys na die uniekheid van mense en kan ingebore menslike verskille soos ouderdom, ras, geslag en fisieke vermoë wees, maar ook minder sigbare dimensies soos opvoeding, kultuur, geloof, persepsies, persoonlikheid en so meer.

Die wêreldwye verskuiwing en verande­ring in demografie, immigrasiepatrone en sosiale aspekte, is direkte katalisators wat ʼn groot invloed op die werksmag uitoefen. Bewyse hiervan is die feit dat drie tot vier generasies deel uitmaak van die ekonomies-aktiewe bevolking (15-64 jaar oud), al hoe meer vroulike werknemers die werksmag in senior posisies met meer status betree, die Wet op Diensbillikheid wat regstellende aksie in terme van vrouens, swart persone, bruin persone, Indiërs en persone met gestremdhede bevorder en die media wat oorheers word deur terme soos “geslagsgelykheid” en swart ekonomiese bemagtiging.

Waarom behoort alle organisasies na ʼn diverse werksmag te streef? Die antwoord is redelik kort en kragtig – die onvermoë van organisasies om ʼn werksmag te skep wat vir die bevolking as ʼn geheel van waarde is, kan tot ernstige gevolge lei omdat menslike hulpbronne nie hulle volle potensiaal bereik nie. Talle bestuurders beskou diversiteit as ʼn neutrale element en mits dit nie as bate nagestreef en benut word nie, gaan die waarde daarvan verlore.

Die waarde van ʼn diverse werksmag kan in die volgende belangrike punte gesien word:
  • Diversiteit kweek kreatiwiteit. ʼn Diverse span sal beter innoveer en met ʼn wyer verskeidenheid van idees vorendag kom.  Probleme sal gevolglik beter opgelos word binne ʼn diverse span as wat die geval sal wees by ʼn meer homogene span.
  • ʼn Diverse werksmag bevorder die beeld en reputasie van ʼn organisasie. Organisasies wat bekend is vir hul etiese, regverdige werwing- & keuringspraktyke met ʼn waardering vir diverse talent, sal ʼn wyer poel van geskikte kandidate trek. Sulke organisasies sal verder ook hul ster-werknemers behou aangesien die werknemers trots is om deel van ʼn vooruitstrewende organisasie te wees . ʼn Ander voordeel is die lojaliteit van kliënte en verskaffers wat verkies om besigheid te doen met organisasies wat sosiaal verantwoordbaar is.
  • ʼn Diverse span is meer produktief omdat die lede van die span van mekaar kan leer. Werknemers leer van mekaar sy werkstyle, houdings en ervaringe. ʼn Goeie voorbeeld is waar die meer tradisionele “Baby Boomer” generasie by die jonger “Millenials” van tegnologie leer, terwyl die “Millenials” weer meer by die “Baby-Boomers” van hul raakvatter werksetiek kan leer.
  • ʼn Diverse organisasie lewer beter kliëntediens. Aangesien diverse werknemers ʼn groter verskeidenheid kennis en vermoëns na die tafel bring en hul diverse kliëntebasis se behoeftes beter verstaan en verteenwoordig, kan hulle beter in die diverse kliëntebasis se behoeftes voorsien.

Nie net is diversiteit se voordele ooglopend belangrik nie, maar dit word ook deur wetgewing soos die Wet of Diensbillikheid, Wet op Arbeidsverhoudinge ensovoorts vereis. Joubert & Genote bied Diversiteitsopleiding aan om organisasies en werknemers te help om meer in diepte te kyk na maniere om diversiteit in organisasies te bevorder en bestuur.  Enersyds word die potensiaal van ʼn organisasie se menslike kapitaal (wat ʼn duur investering is) ontsluit, terwyl daar andersyds die gemoedsrus is dat daar aan toepaslike wetgewing voldoen word.

Share this post

Back to Posts