Back to Posts

Die Bestuur van Verandering

Met verandering wat kenmerkend van die alledaagse besigheidswêreld is, is dit belangrik dat elkeen van ons die basiese begrippe oor die bestuur van verander onder die knie kry.

Moderne ondernemings bly nooit staties vir ʼn lang tydperk nie – die winde van verandering waai kort voor lank in enige besigheid.

Soms is jy as individu aan die stuur van sake en is jyself die oorsaak van die verandering, byvoorbeeld wanneer jy vir ʼn nuwe werk aansoek doen en suksesvol is.  Ander kere word verandering afgedwing deur bestuur of die eksterne omgewing en behels dit dikwels, veral in vandag se tye, herstruktu­rering van die besigheid of afskaling van personeel.

Weerstand teen verandering is ʼn natuurlike emosionele reaksie omdat ons almal stabiliteit verkies en gemaklik voel met gewoontes en roetines.

Verandering – Implikasies vir Bestuurders
  • Wees oortuig dat verandering wel noodsaaklik is – daar moet ʼn baie goeie rede voor wees, byvoorbeeld ekonomiese redes of implementering van nuwe tegnologie.
  • Beplan deeglik vir verandering – dit is ʼn proses wat nie aan blote toeval oorgelaat kan word nie. Die beplanning behoort gedetailleerd te wees en elke stap of element van die veranderingsproses behoort uiteengesit te word, met toegekende verantwoordelikhede en ʼn tydsraamwerk. Beplan ook hoe werknemers deel gemaak gaan word van die verandering. As werknemers deel gemaak word van die veranderingsproses, is hulle meer geneig om eienaarskap te neem en minder geneig om weerstand te bied.
  • Wees voorbereid op werknemers se emosionele reaksie op verandering en beplan daadwerklik hoe vrese en weerstand hanteer gaan word.
  • Wees voorbereid daarop dat produktiwiteit heel waarskynlik sal daal en afwesigheidsyfers moontlik kan verdubbel ten tye van verandering.
  • Maak seker dat voldoende inligting oor die verandering aan werknemers verskaf word.
  • Bied die verandering entoesiasties aan en “verkoop” doelbewus die voordele daaraan verbonde.
  • Verskaf die nodige ondersteuning, hulpbronne, finansies en gereedskap om die verandering moontlik te maak.
  • Stimuleer ʼn positiewe houding deur suksesse deurgaans te vier.
Verandering – Implikasies vir Werknemers
  • Aanvaar dat niks in die lewe permanent is nie – jou beroep (en lewe) is dinamies en vloeibaar.
  • Werk aan jou houding – sien verandering as ʼn geleentheid. Verandering is die prys wat mens betaal vir groei, verbetering, prestasie, bevrediging en geluk.
  • Wees bewus van jou emosies en moenie jouself vinniger probeer druk deur die fases van die veranderingskurwe nie – ontwikkel jou eie hanteringsmeganismes.
  • Kyk vorentoe – om aan die verlede te probeer vasklou is nutteloos.

Share this post

Back to Posts