Die eerste 100 dae in ʼn nuwe pos
Almal weet daar word aansienlike hoeveelheid tyd, moeite en geld geïnvesteer om die korrekte persoon te vind om enige vakante posisie suksesvol te vul. Hoe gemaak as jy die suksesvolle kandidaat is? Nuwe werknemers word onder die vergrootglas geplaas en met arendsoë dopgehou. Navorsing dui daarop dat jou eerste 100 dae (oftewel die eerste 3 maande) in ʼn nuwe posisie deurslaggewend is om die regte indruk te skep en jouself suksesvol te posisioneer. Dit maak dus sin om op ʼn proaktiewe wyse ʼn strategie te ontwikkel vir die hantering van hierdie belangrike tydperk.
Tensy jy te midde van ʼn groot krisis begin werk waar van jou verwag word om dadelik ʼn klomp probleme op te los en te adresseer, is ʼn goeie strategie om aanvanklik eers die kat uit die boom te kyk – neem waar wat om jou aangaan, en leer soveel moontlik van jou nuwe omgewing.
Moenie “probeer regmaak wat nog nie gebreek is nie” – sommige mense spring met ʼn gejuig weg en gooi onmiddellik bestaande metodes en werkswyses by die venster uit, sonder om te dink oor die geskiedenis van die maatskappy en hoe dinge ontwikkel het tot op daardie punt. Met so ʼn aanslag kan die weerstand en ontevredenheid van kollegas en selfs bestuur op die hals gehaal word. Die meer gepaste manier om jou tone in die water te steek, is om eers net waar te neem en jou nuwe omgewing te bestudeer sodat jy mettertyd ingeligte besluite kan neem oor aksieplanne vorentoe.
Onthou ook die volgende punte as jy nuut is in ʼn pos:
1. Interaksie met kollegas
Baie van die kritiese inligting oor ʼn maatskappy word nie vervat in die nuusbriewe of jaarverslae nie. Dit is noodsaaklik om gereelde interaksie met kollegas te hê op verskillende vlakke in die maatskappy, sodat jy die ongeskrewe reëls, maatskappy-politiek en korporatiewe kultuur kan bemeester. As jy in ʼn bestuurshoedanigheid aangestel is, is dit baie waardevol om sleutelpersoneel so gou moontlik te nader en ʼn paar doelgerigte vrae aan hulle te stel, naamlik:
- Wat sou jy graag dieselfde wou hou in die maatskappy?
- Wat sou jy graag wou verander in die maatskappy?
- Wat sou jy graag wou hê dat ek moet doen?
- Waarvoor is jy bang dat ek wel sal doen?
- Wat wil jy van my weet?
2. Voorbereiding
Lees enigiets waarop jy jou hande kan lê aangaande jou nuwe maatskappy se missie, visie, waardes, sterk punte en uitdagings. Die kennis sal jou meer voorbereid daarop maak om probleemsituasies te kan hanteer wat jy in jou nuwe werk mag teëkom, en sal jou in staat stel om te kan saampraat wanneer kwessies onder bespreking is.
3. Voorkoms
Wees voorbereid daarop dat jy geëvalueer gaan word in terme van jou voorkoms en die indruk wat jy skep – sorg dus dat jy altyd ʼn trappie beter lyk as die res van jou kollegas.
4. Dokumenteer alles
ʼn Baie goeie gewoonte om jouself aan te leer, is om sover moontlik alles te dokumenteer – beskryf die probleme wat jy teëkom, die verskillende opsies in terme van oplossings wat bestaan, asook die veranderinge wat uiteindelik gemaak word. Gebruik dit om ʼn geskiedenis op te bou van jou suksesse en die waarde wat jy toevoeg tot die maatskappy.
Onthou, die maatskappy het lank en hard gesoek na die regte kandidaat voor hulle jou aangestel het – gebruik dus al die ervaring en kennis wat jy opgedoen het om situasies te ontleed en besluite te neem oor aksieplanne vir die toekoms. Wees so proaktief moontlik in jou eerste 100 dae!