Back to Posts

Seksuele teistering in die werksplek

Definisie

Die Goeie Praktykkode oor die hantering van seksuele teistering in die werkplek definieer seksuele teistering as “ongewenste gedrag van ‘n seksuele aard wat die regte van ‘n werknemer skend en ‘n teenvoeter vir gelykheid in die werkplek is”. Hierdie gedrag sluit enige fisiese, verbale of nieverbale seksuele optrede in wat die slagoffer ongemaklik laat voel, soos bv:

  • Fisiese aanraking
  • Onwelkome suggestiewe/seksuele grappe
  • Ongewenste vrae oor jou persoonlike lewe
  • Fluit
  • Ongeskikte handgebare
  • Onwelkome versoeke
  • Staar na persoon se liggaam op ‘n aanstootlike wyse

Die ongewenste aard van seksuele teistering onderskei dit van gedrag wat welkom en wedersyds is. Seksuele aandag word seksuele teistering indien:

  1. Die gedrag volgehou word
  2. Die ontvanger dit duidelik gemaak het dat die gedrag nie welkom is nie
  3. Die oortreder moes geweet het dat die gedrag as onaanvaarbaar beskou word

Seksuele teistering kan voorkom tussen enige geslagte, en staan onafhanklik van etniese herkoms. Die werkgewer sowel as die werknemer kan hom-/haarself daaraan skuldig maak. Selfs kontrakteurs en verskaffers spring nie verantwoordelikheid vry nie.

Wetgewing

Seksuele teistering in die werksplek is ‘n vorm van onbillike diskriminasie. Dit word as ʼn ernstige oortreding beskou en word streng verbied deur verskeie Suid-Afrikaanse wetgewing, o.a. die Wet op Diensbillikheid, die Wet op Arbeidsverhoudinge en die Beskerming teen Teistering Wet. Die Wet op Diensbillikheid bepaal dat indien ʼn werkgewer versuim om die nodige stappe te neem in gevalle van beweerde seksuele teistering, oortree die werkgewer ook die Wet op Diensbillikheid. Artikel 60(3) van die Wet op Diensbillikheid hou ‘n werkgewer aanspreeklik vir die onregmatige, diskriminerende gedrag van sy werkers.

Regte van partye

Seksuele teistering is ‘n onbillike arbeidspraktyk wat die volgende regte van die slagoffer skend:

  • Die reg op ‘n werksomgewing wat vry is van seksuele teistering
  • Die reg om met respek en waardigheid hanteer te word by die werk
  • Die reg op gelykheid en om nie teen gediskrimineer te word as gevolg van ras, geslag en MIV-status nie
  • Die reg om seksuele teistering aan te meld sonder vrees vir viktimisasie
  • Die reg om ernstig opgeneem te word en vertroulike hantering van klagtes

Geen persoon mag tydens die ondersoek-fase van ‘n seksuele teistering klag benadeel of teen gediskrimineer word nie. Dit spreek dus vanself dat die beskuldigde ʼn regverdige kans gegun moet word om te pleit, sy/haar saak te stel, getuies te roep en versagtende omstandighede aan te voer.

‘n Slagoffer van seksuele teistering het ook die reg om afsonderlike kriminele klagtes te lê teen die beweerde oortreder.

Prosesse wat gevolg moet word

Werkgewers moet beleide en prosedures in plek stel om seksuele teistering die hok te slaan. Dit moet aan almal in die organisasie duidelik wees watter optrede as seksuele teistering beskou word, hoe dit gerapporteer moet word en hoe dit hanteer sal word.

Werknemers moet gevalle van seksuele teistering so gou as prakties moontlik by die werkgewer aanmeld (gewoonlik by ʼn lynbestuurder of by die MHB afdeling). Indien die werknemer versuim om die geval aan te meld, sal dit baie moeilik wees vir die werkgewer om in te gryp en beskerming te bied.

Van ʼn werkgewer se kant af is dit belangrik dat die saak vinnig, ernstig en met die nodige vertroulikheid ondersoek word. Dissiplinêre aksie moet dan ingestel word teenoor die beskuldigde, afhangend van die meriete van die saak. Die werkgewer moet verseker dat die persoon wat die klagte gelê het, nie geviktimiseer word as gevolg daarvan nie.

Seksuele teistering kan op ʼn informele of formele wyse in die werksplek hanteer word. Indien die slagoffer bereid is om die probleem te probeer oplos sonder om ʼn formele klag teen die oortreder te lê, kan die volgende stappe gevolg word:

  • ʼn Gesprek kan met die oortreder gevoer word om hom/haar te vra om op te hou met sy/haar gedrag.
  • Indien die slagoffer ongemaklik voel om alleen met die oortreder te praat, kan hy/sy iemand saamneem ter ondersteuning of as getuie.
  • Die slagoffer kan aan die oortreder skryf om hom/haar in te lig dat sy/haar gedrag die slagoffer ongemaklik laat voel en vra om daarmee op te hou. (Hou ‘n afskrif van die brief.)
  • Iemand anders kan gevra word om met die oortreder te praat, bv. ʼn vakbondverteenwoordiger of ‘n kollega/bestuurder.

Indien die slagoffer ʼn formele prosedure kies vir die hantering van seksuele teistering bewerings, moet ʼn dissiplinêre ondersoek gedoen word en ʼn regverdige verhoor gehou word met ʼn onafhanklike persoon as voorsitter. Sou sodanige ondersoek nie bevredigend opgelos word nie, kan enige party die saak binne 30 dae na die KVBA verwys vir bemiddeling en/of arbitrasie. Indien die klagte steeds onopgelos bly, kan enige party die geskil binne 30 dae na die Arbeidshof verwys.

Slaggate om te vermy

Seksuele teistering is ʼn ernstige klagte wat dikwels tot ontslag kan lei. Ongelukkig word vals beskuldigings soms deur persone gemaak wat verskuilde agendas het. Werknemers moet daarom baie bedag wees op die manier waarop hulle hul medewerknemers behandel. Vermy liefs enige gedrag wat aanstoot kan gee. Onthou dat die werksplek nie die gepaste omgewing vir drukkies en oorvriendelikheid is nie. Selfs ʼn onskuldige kompliment oor ʼn kollega se kleredrag kan dalk deur die ontvanger as opdringerig beskou word. Tree dus te alle tye professioneel en met respek teenoor alle mede-werknemers op.

Vanuit die slagoffer se oogpunt is dit belangrik om enige onwelkome voorvalle aan te teken en onmiddellik aan te meld. Hou in gedagte dat dit ʼn verdere dissiplinêre oortreding is indien die oortreder jou viktimiseer. Moet jou daarom nie laat afskrik deur dreigemente nie, maar hou eerder soveel as moontlik bewyse daarvan om as verswarende omstandighede tydens ʼn verhoor te dien.

Share this post

Back to Posts