Back to Posts

Interne aanstellings en bevorderings

Suid-Afrika is een van die lande met die hoogste werkloosheidskoers ter wêreld. Werkgewers is in ‘n baie moeilike situasie waar dit ‘n groot uitdaging is om geskikte werknemers te werf, veral vanweë die onvermoë van die regering om die nasionale ontwikkelingsplan te implementeer en gepaardgaande swak ekonomiese groei, tesame met die groot armoede vraagstuk en ʼn onderwysstelsel wat nie aan verwagtinge voldoen nie.

Vanuit navorsing gedoen deur Joubert & Genote is ʼn duidelike toename van applikante vir geadverteerde vakante poste sigbaar.  Daar is ongelukkig ook ʼn gepaardgaande afname in die gehalte van kandidate.  Vir baie poste is daar so min as 5% kandidate wat aan die gestelde vereistes (kundigheid / vaardigheid en ervaring) voldoen.  Eksterne aanstellings word dikwels gedoen met inagname van wesenlike leemtes in ervaring en kundigheid met groot risiko’s vir die werkgewer.  Die direkte koste van eksterne aanstellings kan tot 20% van jaarlikse vergoeding beloop met vestigingskoste en ander indirekte kostes van ʼn verdere 20%.  Boonop moet dit in aanmerking geneem word dat dit gemiddeld 12 maande duur voordat ʼn eksterne persoon in ʼn pos gevestig is, aangesien hy/sy normaalweg eers vanaf die 2de jaar werklik presteer en sinvolle insette lewer.  Daar is dus aansienlik meer verskuilde kostes verbonde aan eksterne aanstellings as wat dit op die oog af lyk.

Groter klem word algaande op interne ontwikkeling en bevordering van personeel geplaas as ʼn strategie om oor die langtermyn Menslike Hulpbron kapasiteit te skep wat aangewend kan word om werkgewers se strategiese doelwitte te verwesenlik.

Interne ontwikkeling en opleiding van personeel bied verskeie voordele vir werkgewers:

  • ʼn Interne poel van bewese (getoetste) kundigheid en ervaring
  • Kontinuïteit en soomlose oorgang tussen personeellede
  • Behoud van institusionele geheue
  • Voortsetting van verhoudings met belangrike rolspelers en eksterne raakvlakke
  • Wesenlike invloed op verbondenheid en motivering van personeellede
  • Laer personeelomset en langer loopbane vir personeellede
  • Beskerming van intellektuele eiendom
  • Behoud van gevestigde markte / kliëntebasisse

Die ingesteldheid en gesindheid van werknemers speel ook ʼn belangrike rol.  Daar is ongelukkig steeds baie werknemers wat in ʼn gemaksone is en wat glo dat hulle op werksekwiteit en bevorderingsgeleenthede “geregtig” is.  ʼn Werknemers se loopbaansukses is direk afhanklik van:

  • Die vermoë om voortdurend te vernuwe en aan te pas by verandering
  • Nuwe kennis en vaardighede te bemeester
  • Geleenthede te benut om “die ekstra myl te loop” deur addisionele take te verrig en ekstra tyd op vrywillige basis te werk
  • Opleidingsgeleenthede aan te gryp en voortdurende selfstudie binne jou vakgebied en industrie te doen

Share this post

Back to Posts