Back to Posts

Kommunikasie met bestaande kliënte

Kommunikasie met bestaande kliënte is dikwels die lewensaar van ‘n organisasie.  Deur besigheid te doen met bestaande kliënte is baie makliker as om nuwe kliënte te oorreed om van jou produk of diens gebruik te maak. Volgens statistiek kan ondernemings hul winste tot 25% vermeerder deur die behoud van slegs 5% van hul bestaande kliënte. Dit behels egter die deurlopende versterking en instandhouding van die vertrouensverhouding. Die professionele verhouding word bepaal deur die persepsie wat die kliënt van jou as professionele persoon en jou onderneming vorm.

Robert Shaw stel dit dat die professionele vertrouensverhouding op die volgende beginsels gebou is:  besorgdheid, integriteit en geloofwaardigheid. Derhalwe is dit noodsaaklik om hierdie beginsels in jou gedrag te projekteer ten einde ʼn gunstige persepsie van jou onderneming te skep en ʼn lojale kliëntebasis te bou.

Daar bestaan verskeie wyses waarop sodanige vertrouensverhouding versterk en in stand gehou kan word:

  • Een tot een, in-persoon interaksie het die grootste impak op die professionele vertrouensverhouding aangesien dit persoonlik is en op die kliënt se unieke behoeftes gerig is. Die nieverbale kommunikasie bied deursigtigheid en weerspieël duidelik die beginsels van vertroue wanneer dit ooreenstem met die verbale kommunikasie. Indien jou kliënte nie fisies maklik bereikbaar is nie, is ʼn telefoonoproep om op te volg oor hul doen en late, ook ʼn gerieflike alternatief. Deur op hoogte te wees van jou kliënt se unieke behoeftes, word jy in staat gestel om proaktief daarop te reageer.
  • Persoonlike gelukwensings met verjaarsdae, mylpale en suksesse d.m.v. e-posse laat jou kliënt waardig voel. Ander kommunikasie wat per e-pos kan plaasvind is die verspreiding van nuusbriewe, vakkundige artikels en inligtingstukke wat jou kliënt op hoogte hou van tendense en gebeure wat moontlik hul bedrywighede beïnvloed. Onthou om jou kliënt se toestemming te vra alvorens jy hierdie e-posse aan hulle rig.
  • Openbare gespreksforums op sosiale media bv. LinkedIn en Twitter dui op jou betrokkenheid in netwerke en beklemtoon die gesag van jou professionele opinie. Dit stel ook jou kliënte in staat om hul kommer oor sekere onderwerpe op hierdie forums aan jou te lig.

Kliënte dien as ʼn bron van nuwe idees. Hulle bied dikwels waardevolle opinies en voorstelle m.b.t. die verbetering van jou produk of diens. Indien jy hierdie inligting ter harte neem, laat jy boonop die kliënt belangrik voel en moedig jy hulle aan om voortaan konstruktiewe terugvoer aan jou te gee.

Share this post

Back to Posts