Back to Posts

Hoe lyk ʼn goeie CV?

Die een enkele vraag wat byna elke kandidaat vra nadat hy moes hoor dat sy aansoek onsuksesvol was, is: “Wat is fout met my CV?” En 9 uit die 10 kere kan daar met groot eerlikheid geantwoord word: “Niks. Absoluut niks.” Dis ʼn mite dat ʼn CV net ʼn sekere uitleg moet hê of net presies ʼn sekere aantal bladsye moet wees. Ja, dis lekker om ʼn “mooi” CV onder oë te neem, maar al is dit die mooiste ding wat jy al ooit gesien het, en wat daarin staan is nie dít wat die werkgewer soek nie, dan help al die prag absoluut niks!

Dit is dus duidelik dat die enkele belangrikste aspek van ʼn CV sy inhoud is. Daar is sekere inligting wat uitgelaat kan word, terwyl ander inligting onontbeerlik is.

Die noodsaaklike inligting wat enige CV moet bevat, is as volg:

  • Jou persoonlike besonderhede: dit sluit in jou naam en van, jou geboortedatum (verkieslik ID nommer), waar jy woon en waar ons jou kan kontak. Dit is nié vir ons nodig om te weet of jy binne of buite gemeenskap van goedere getroud is nie, ook nie waar jou vierde kind gedoop is nie! Dit is interessant om bv. stokperdjies te lys, maar nie noodsaaklik nie.
  • Jou opvoedkundige kwalifikasies: dit word aanbeveel dat elke afsonderlike kwalifikasie gelys word, asook waar en wanneer dit verwerf is. As jy egter reeds ʼn nagraadse kwalifikasie het, word dit irrelevant om te sê hoeveel persent jy vir elke vak in matriek verwerf het.
  • Jou ondervinding tot op hede: iets wat alle kandidate nie altyd besef nie, is dat jy by hierdie afdeling moet prioritiseer. Dink aan die pos waarvoor jy aansoek doen, en brei uit op ervaring wat relevant tot hierdie aansoek is. As jy dus bv. aansoek doen vir ʼn Rekenmeesterspos, maar voorheen ʼn Graad 1 onderwyseres was, is dit onnodig om volledig oor jou onderwysloopbaan uit te wei. Om slegs die jaartalle, postitel en werkgewer te lys, is heeltemal voldoende. Werkgewers verkies gewoonlik dat werkservaring kronologies gelys word vanaf die mees onlangse posisie tot by jou heel eerste werk.
  • Laastens is daar die kwessie van referente: nie alle kandidate voel gemaklik daarmee om name en kontaknommers van referente op hul CV te verskaf nie. Dit is ook nie noodsaaklik nie, maar alle kandidate moet besef dat – indien hulle gunstig oorweeg word vir ʼn pos – hulle hierdie inligting wel op een of stadium aan ʼn voornemende werkgewer sal moet verskaf. Om dus op ʼn CV te noem dat referente beskikbaar is op aanvraag, is voldoende. Gewoonlik word 2 of 3 referente opgevolg. Min mense sal hul huidige werkgewer as referent gebruik, maar dit gebeur tog in gevalle waar ʼn posbekleër byvoorbeeld weens personeelvermindering genoop is om ander werk te soek en sy werkgewer dus van die situasie bewus is.

Die uitleg van ʼn CV dra bloot by tot die “leesbaarheid” daarvan, en om ʼn bietjie moeite hiermee te doen, sal beslis nie onnodig wees nie – selfs al kan dit jou nie ʼn suksesvolle aansoek verseker nie. Die belangrikste riglyne is om nie oorboord te gaan met ʼn magdom verskillende soorte en groottes skrif nie – hou dit eenvoudig en eenvormig. Moenie paragrawe skryf nie – hou al die inligting puntsgewys by en laat genoeg spasies tussenin. ʼn Goeie lengte vir ʼn CV is 2 tot 3 bladsye. Werkgewers het nie tyd om ure aan elke aansoek te spandeer nie, en gaan beslis nie ʼn CV van 20 bladsye deurlees nie. Onthou dat jou CV die enigste ding is waarop ʼn werkgewer jou kan oordeel. Maak dus baie seker dat daar nie spel- en taalfoute in hierdie bemarkingspakkie vervat is nie!

Die doel van ʼn dekbrief is grotendeels om jouself bekend te stel en bereid te verklaar om die werk te doen. Dit is nie noodsaaklik nie, tensy ʼn advertensie dit natuurlik spesifiek vereis. In die dekbrief kry jy die geleentheid om jouself ʼn bietjie te verkoop en redes te gee waarom jy dink jy die mees geskikte kandidaat vir die pos is. Dit is ook hier waar jy ander inligting mag noem indien jy sou wou, soos wanneer jy beskikbaar is om diens te aanvaar, wat jou vergoedingsverwagting is, waarom jy bv. vir ʼn pos in ʼn ander provinsie aansoek doen, ensovoorts. Ironies genoeg moet daar egter weer beklemtoon word dat die beste dekbrief ter wêreld van nul en gener waarde is as jou CV nie dui op ʼn goeie passing met die beskikbare pos nie.

Share this post

Back to Posts