Afwesigheid by die werksplek
Kroniese afwesigheid word as een van die grootste probleme in hedendaagse ondernemings beskou. Die effek van afwesigheid is enorm. Nie net boet werkgewers op produksie in nie, maar die afwesige werker moet deur ʼn tydelike werker vervang word. Hierdie tydelike werker ontvang dikwels opleiding voordat sy/haar dienste aangewend word, wat verdere onbeplande kostes aan die werkgewer se kant beteken. Personeeltekorte kan ook ʼn negatiewe invloed op kliëntediens uitoefen, wat oor die langtermyn die beeld én die onderskeie handelsmerke van die onderneming laat skade ly.
Afwesigheid veroorsaak ʼn bose kringloop. Diegene wat wel werk getrou bywoon, verrig nie net sy / haar eie werk nie, maar moet ook instaan vir afwesige spanmaats. Dit lei op sy beurt tot verhoogde spanning en lae moraal. Uiteindelik neem dié toppresteerders se werksbywoning ook af vanweë emosionele uitbranding.
Die oorsake van afwesigheid kan hoofsaaklik in twee kategorieë geklassifiseer word:
Die vermoë om werk by te woon
Daar is soms toestande buite die werknemer se beheer wat hom/haar daarvan weerhou om werk by te woon. Dit sluit onder meer die volgende in:
- Onbetroubare publieke vervoer
- Gesinsverantwoordelikhede
- Swak fisieke- en geestesgesondheid
- Hoë werksdruk, vanweë onder meer lang werksure, lei tot spanning wat die mens se immuunsisteem aftakel
- Gevaarlike gewoontes soos dwelm- en drankmisbruik
- Gesinsgeweld
Die motivering om werk by te woon
Hier verwys ons ʼn definitiewe keuse wat die werknemer maak om nie vir werk aan te meld nie. Wetgewing beskerm die werkers tot so ʼn mate dat dit redelik maklik is om van siekeverlof misbruik te maak. Die uitputting van siekeverlof, alvorens die siekverlofsiklus voltooi is, het die norm eerder as die uitsondering geraak. Die volgende oorsake word binne dié kategorie geklassifiseer:
- Lae werksbevrediging
- ʼn Toksiese organisasie klimaat en interpersoonlike konflik
- Narsistiese bestuurders en toesighouers
- Diskriminerende arbeidspraktyke
Wyses waarop afwesigheid effektief bestuur kan word:
- Die implementering en toepassing van ʼn afwesigheidsbeleid
- Die handhawing van korrektiewe dissipline
- Akkurate rekordhouding om sodoende afwesigheidspatrone te identifiseer
- Terugkeer-werk-toe-onderhoude, oftewel ʼn opvolg gesprek met die werknemer wanneer dié weer vir werk aanmeld
- Die vestiging van oop horisontale en vertikale kommunikasiekanale
- Ondersteuningsdienste soos berading, verpleeg- en apteekdienste
- Beloning van getroue werksbywoning d.m.v. ʼn bonusstelsel of die toekenning van addisionele vakansieverlof
- Akkommodering van gesinne, en veral vroue, deur die daarstelling van ʼn crèche-fasiliteit
- Skep van ʼn organisasiekultuur wat ʼn gesonde lewensstyl aanspoor
- Taak- of werkverryking om sodoende die inhoud van die werk meer interessant te maak